Braaf die Boerboel is ’n splinternuwe held en gaan binnekort met skouermantel en al help om na kinders se welstand en toekoms om te sien.
René Roux, Helpende Hand se adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie, sê die Braaf-projek word saam met die organisasie se Tassieprojek aangebied wat jaarliks help dat talle hulpbehoewende gr. 1’s met ?ten volle toegeruste skooltassies hul skoolloopbaan kan begin.
Die hoofdoel van die Braaf-projek is om kinders te leer dat dit nie net belangrik is om braaf te wees nie, maar noodsaaklik.
“Ons wil hulle leer dat dit braaf is om soms bang en versigtig te wees, maar meeste van alles dat dit braaf is om iemand anders te help wat nie so bevoorreg soos jy is nie.
“Jy is braaf as jy help, jy is braaf as jy gee. Dit is ons almal se plig om ?gesindheid van welwillendheid by ons kinders te kweek,” sê Roux.
Die Tassieprojek is een van Helpende Hand se vlagskipprojekte, en dit sit sedert 2007 tassies, toegerus met hoëgehalteskryfbehoeftes, in hulpbehoewende graadeentjies se hand. Die algehele koste van ’n tassie is R350. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek tassie.co.za.


