Toepaslike praktiese buitelug-aktiwiteite vul die onderwerpe wat op die jeugleierskonferensie bespreek is aan.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Die vyfde jaarlikse Noord-Kaapse jeugleierskonferensie vir hoërskoolleerlinge, wat in Desember aangebied is, het met ’n rekordgetal van meer as 100 deelnemers gespog.

Tydens hierdie konferensie kan jeugleiers hul leierskapsvaardighede onder mentorskap van deskundiges ontgin en uitbrei.

Danksy ’n borgskap vir die tweede jaar agtereenvolgens van KLK Landbou Beperk is inskrywings van 102 leerlingleiers van 24 skole ontvang – ook van skole in Alexanderbaai, Springbok, Calvinia en Colesberg.

Die skep van bewustheid vir verantwoordelikheid, selfkennis, selfvertroue, menseverhoudings, geleenthede en leierskapstyle wat met leierskap gepaardgaan, is deel van die program. Dit is met toepaslike praktiese buitelug-aktiwiteite aangevul.

Drie kenners het as sprekers en mentors opgetree.

Dr. Jeanette De Klerk-Luttig, ’n opvoedkundige wat tot onlangs aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Eenheid vir Morele Leierskap verbonde was, het gefokus op hoe ’n ware leier optree.

Annekie Teessen, verbonde aan die Hoërskool Upington en ’n geregistreerde loopbaan- en lewensafrigter, het die soeklig laat val op leierskap in omstandighede waar gereelde druk, spanning en konflik voorkom.

Op sy beurt het senior adv. Fef le Roux, stigter en voorsitter van die Academy for Environmental Leadership SA (AEL), op die belang van leierskap vir die omgewing gefokus. Le Roux is ’n oudvoorsitter van die Curro Holdings-privateskoolgroep. Die konferensie is sy geesteskind.

“Ons het gewoond geraak aan negatiwiteit op alle vlakke van die samelewing en moet gevolglik waak teen ’n blinde oog vir die uitnemendheid en positiwiteit van ons jeug wanneer dit verdien om genoem te word.”
Adv. Fef le Roux

Prof. Leopoldt van Huyssteen, wat die openingslesing behartig het, het die belangrikheid van leierskap beklemtoon. Hy is ’n afgetrede operasionele hoof en was ’n waarnemende rektor aan die US. Van Huyssteen is die uitvoerende hoof van die AEL se akademiese program.

’n Voordeel van die konferensie is die netwerk wat tussen aanbieders en die leerlinge ontstaan en dat leerlinge steun ontvang wanneer hulle voor leierskapsuitdagings te staan kom.

Die jeugontwikkeling­sentrum Duin in die Weg het die konferensie in samewerking met die AEL by die Uizip-kampus aan die oewer van die Oranjerivier naby Upington aangebied. Die AEL is ’n geakkrediteerde private hoëronderwysinstelling en sustermaatskappy van Duin in die Weg. Dié instellings bied ook ’n hoërsertifikaat­program in bewarings­ekologie, met die klem op omgewingsleierskap, aan. Verwerk, Helena Barnard

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article