Veiliger swangerskappe met gesonder moeders en kinders tot gevolg was die fokus van ’n byeenkoms om swangerskapverwante risiko’s te verstaan.
Hiertydens is individue ook toegerus met kennis om ingeligte besluite tydens swangerskap te neem.
Dié byeenkoms het aan die einde van verlede jaar by die Loeriesfontein Hub plaasgevind en is in samewerking met die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Alkoholisme en Dwelmafhanklikheid (Sanca), die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), en die departement van gesondheid aangebied.
“Die doel was om gedragsverandering te inspireer terwyl die reis van swangerskap tot die geboorte van ’n kind beklemtoon is.
“Dit gaan daaroor om ’n verbintenis tussen ouer en baba te bevorder, en om moeders toe te rus met kennis en selfvertroue om op die langtermyn lewensstylverbeterings te benut.
“Sulke inisiatiewe is van kardinale belang vir maatskaplike vooruitgang en bewusmaking,” sê sers. Liebchen Lombard van die SAPD in Loeriesfontein.
Insiggewende sessies en besprekings gefasiliteer deur Sanca oor die vroeë opsporing van swangerskapgevaartekens en dwelmmisbruik onder verwagtende moeders, is ook aangebied.
Die program was gerig op swanger vroue uit die gemeenskap, met 14 persone wat aktief deelgeneem het.
Diegene teenwoordig het ook babasorgpakkies, befonds deur die Loeriesfontein en Khobab-windkragaanleg, ontvang.
“Die inisiatief beklemtoon die belangrikheid van gemeenskapsbetrokkenheid as die sleutel tot gesondheidsuitdagings.
“Ons is geëerd om tot hierdie program by te dra, bewustheid oor swangerskapverwante risiko’s te verhoog en deurslaggewende ondersteuning aan verwagtende moeders in Loeriesfontein te bied,” sê Vanessa Fredericks, ekonomiese ontwikkelingsbestuurder vir die windkragaanlegte.


