’n Jong man van Douglas het verlede week 4 km op sy krukke deur Kimberley se strate gestap as deel van geldinsameling om vir hom ’n prostese te bekom.
Shine Mumba (35) van Douglas se linker-onderbeen is geamputeer ná ’n fratsongeluk toe hy in die uitvoering van sy werk deur ’n elektriese kabel geskok is. Die elektriese skok het sulke erge brandwonde veroorsaak dat dié deel van sy been geamputeer moes word.
Terwyl hy ’n pasiënt by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal (RMSH) in Kimberley was, het van die fisioterapeute besef dat hy ’n ideale kandidaat vir ’n prostese is.
Benewens ’n positiewe ingesteldheid is Mumba jonk en sterk.
Corné Jooste, een van die fisioterapeute, vertel hy het gehoor dat RMSH se brandwondeenheid in die verlede pretdrafbyeenkomste aangebied het om geld vir die eenheid in te samel.
Aangesien Jooste ’n lid van die Kimberley Harriers is, het hy voorgestel dat ’n pretdraf deur dié hardloopklub gereël word om geld vir ’n prostese vir Mumba in te samel.
Private medici in verskeie spesialisvelde het betrokke geraak en hulp aangebied, hetsy gratis konsultasies of korting.
Op 7 Junie het talle atlete en ander betrokkenes vir die pretdraf byeengekom, waarna ’n afstand van 4 km gestap of gedraf is.
Die meeste deelnemers was in rooi of oranje geklee. Ná die pretdrafsessie was daar ’n uitdaging waartydens die waaghalsiges aan brandrissies of brandrissiesouse kon weglê – as teken van meelewing vir brandslagoffers.
Jooste sê ongeveer R12 000 is reeds vir Mumba se prostese ingesamel, en nog R12 000 word benodig om dié droom ’n werklikheid te maak.
Mense wat betrokke wil raak, kan Jooste by 084-043-7888 bel.


