Die Noord-Kaap se topmatrikulant vir 2021 het nie net homself en sy ouers verbaas nie, maar ook deur sy prestasie sy hoërskool in Kathu weer bekend gemaak.
Matthew Holm se aanwysing as die provinsie se topleerling in die nasionale seniorsertifikaateksamen het bewys dat die Hoërskool Kathu “uitstekende” onderwysers het.
Só reken sy ma en skoolhoof van dié skool, Linda Holm.
Dit is die eerste keer in die skool se bestaan van 46 jaar dat een van sy leerlinge as die provinsie se topmatrikulant aangewys is.
Matthew was Vrydag (21/01) oorstelp toe sy naam by die prysuitdeling van die Noord-Kaapse departement van onderwys as die slimste gr. 12-leerling van 2021 uitgeroep is. Hy het sewe onderskeidings behaal, en was ook die topleerling in wiskunde.
Tydens sy skoolloopbaan het dié oud-onderhoofseun en dux-leerling aan die Hoërskool Kathu ’n rits skoolprestasies, asook pryse van buite-instellings, behaal vir byna elke vak wat hy geneem het. Hy het ’n onderskeiding in Engels (huistaal), Afrikaans (eerste addisionele taal), wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, lewenswetenskappe en fisiese wetenskappe behaal.
Vanjaar gaan Matthew BSc datawetenskap met toegepaste wiskunde aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Hy is aanvaar vir al drie kursusse waarvoor hy aansoek gedoen het.
“Ek was oorweldig toe ek as die topleerling gekroon is – ek het dit nie verwag nie,” sê hy.
“Sonder my gesin sou ek dit nie kon doen nie.”
Sy raad aan leerlinge is om belang te stel in die vak wat hulle studeer.
“Dit maak dit soveel makliker om te leer, en minder vervelig. Doen daagliks huiswerk en hersiening. Teen die einde van die jaar ken jy reeds 80% van jou werk. Ek het ’n diep belangstelling in wiskunde en fisiese wetenskappe. Dié kombinasie kan soveel loopbaanrigtings ontsluit.”
“Die toekoms bly onvoorspelbaar. My enigste hoop is dat Suid-Afrika tot ’n land van groot wiskundige en wetenskaplike kennis kan ontwikkel.”
Linda het Afrikaans grootgeword en haar man, Clint, is Engelssprekend. Matthew het Engels skoolgegaan, maar sy jonger suster, Tristen, is meer gemaklik in Afrikaans. Sy sê sy is geweldig trots op haar broer.
Clint, ’n outo-elektrisiën by ’n mynkontrakteursfima, sê Matthew is sedert kleintyd ’n volwasse, koelkop-kind wat kwessies deeglik beredeneer.
“Hy kan ’n situasie goed ontleed en sy mening uitspreek wanneer iemand reg of verkeerd opgetree het.”
Linda sê sy het nooit nodig gehad om Matthew aan huiswerk of skoolwerk te herinner nie.
“Hy was gewild onder sy vriende. Hy is ’n onafhanklike, toegewyde en hardwerkende kind.”
Matthew se prestasies is ’n groot eer vir die skool, asook dié van JC van Niekerk, wat ses onderskeidings behaal het en die provinsie se topleerling in elektriese tegnologie is.
“Hoewel ek al twee jaar die skoolhoof is, is ek eers aan die begin van 2021 vas aangestel,” sê Linda.
“Die skool het die afgelope vyf jaar hindernisse oorkom. Die slaagsyfer was ook nie bevredigend nie. Ons is inteendeel as onderpresterend beskou. In 2020 het ons slaagsyfer met 9% na 79,4% gestyg, en in 2021 met nog 5% na 84,3%. Ons is nog nie in die drie topskole van die John Taolo Gaetsewe-distrik nie, maar ek wil daar uitkom.
“Matthew en JC se vertoning wys dat die onderwysers uitstekend is. Die skool is weer bekend gemaak, as’t ware. Ek het self matriekvraestelle gemerk, en ek dring aan dat die skool se matriekonderwysers dit doen omdat hulle soveel daaruit kan leer en in die klas kan toepas.”
Sy sê dat Kathu dringend nog ’n hoërskool nodig het, omdat die Hoërskool Kathu uit sy nate bars.