KIMBERLEY – Noudat die premier van die Noord-Kaap, dr. Zamani Saul, toegegee het dat die stand van die Kimberley Geestesgesondheidshospitaal ‘n “verleentheid” is, sal die DA in die provinsie voortgaan om die provinsiale administrasie verantwoordbaar te hou sodat elke inwoner toegang tot mediese sorg van goeie gehalte het.
Dr. Isak Fritz, LPW en die DA se provinsiale woordvoerder oor gesondheid, sê hy het die premier tydens ‘n vraesessie op 25 September in die Noord-Kaapse Provinsiale Wetgewer uitgevra oor sy planne en voornemens om gesondheidsorg in die provinsie reg te ruk.
Fritz sê teen Julie vanjaar het die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement ‘n algehele vakaturekoers van 22% gehad. Slegs 33% van die poste beskikbaar in die gemeenskapsdiensprogram was gevul.


“Hierdie akute personeeltekorte bring mee dat mediese fasiliteite gedurig onderbeman is en die meeste fasiliteite kan eenvoudig nie voldoende dienste aan ‘n toestroming van pasiënte lewer nie.”
Vir die rede verwelkom die party die verbintenis dat bykomende hulpbronne vir die gesondheidsektor beskikbaar gestel sal word, met die nasionale regering wat ‘n ekstra R161 miljoen vir dié sektor belowe het.
“Ons sal die finansiële bestuur fyn nagaan om toe te sien dat die geld vir die regte doeleindes aangewend word. Dit is nie net chroniese onderbefondsing wat die departement se probleme veroorsaak nie, maar ook die misbruik en wanbestuur van beskikbaar bronne,” sê Fritz.
Teen Junie het die departement byvoorbeeld met 3 763 rekeninge van meer as R812 miljoen gesit wat nie binne die voorgeskrewe 30 dae betaal is nie.

“Wanneer rekeninge nie betyds betaal word nie, moet die departement meer aan boetes bestee. Dis doodeenvoudig onbekostigbaar. Die DA sal voortgaan om die meganismes tot ons beskikking te gebruik om toegang tot gesondheidsorg van goeie gehalte vir elke Noord-Kapenaar te bewerkstellig.”
Hospitaal in omstredenheid gehul
Dié Noord-Kaapse Geestesgesondheidshospitaal is sedert sy aanbouing nagenoeg 20 jaar gelede in omstredenheid gehul.
Enkele maande gelede het die gesondheidsombudsman, prof. Taole Mokoena, in samewerking met die Menseregtekommissie (MRK), ‘n verdoemende ondersoekverslag bekendgestel. Makoena het bevind die oorsaak van twee psigiatriese pasiënte se dood was weens wanbestuur, gebrek aan aanspreeklikheid en swak stelsels by die Noord-Kaapse Geestesgesondheidshospitaal en die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal, ook in Kimberley.
LEES: Noord-Kaapse departement van gesondheid ‘deurdrenk met gevoelloosheid’
Sedert die hospitaal se aanbouing is talle persone in hegtenis geneem en is hofsake aanhangig gemaak. Die bou van die hospitaal sou in 2005 begin, met ‘n aanvanklike begroting van R297 miljoen.
Die eerste kontrakteur wat aangestel is, sou die hoofgebouekompleks van 336 000 vierkante meter binne 24 maande voltooi. Weens swak vakmanskap, die sloping van sommige strukture vir hersteldoeleindes en die verandering van kontrakteurs, het die begroting tot meer as ‘n miljard rand gestyg.
Bedrog, korrupsie, geldwassery, wanadministrasie en wanbestuur het deur die jare sinoniem met dié massiewe kompleks aan die buitewyke van Kimberley geword.
Die amptelike opening van die hospitaal het op 30 September 2019 plaasgevind.
Hiertydens het Saul gesê: ”It was a long and winding road full of pitfalls characterised by huge wastages of state resources. We commit that such will never be repeated in the Northern Cape. The facility cost R1.3 billion to complete but it has emerged as a truly remarkable and state-of-the-art healthcare facility, a symbol of transformation and must be a Centre of Excellence.”
Vandag, ses jaar later, vind konstruksiewerk steeds daar plaas, en het die stof oor dié hospitaal se omstredenheid nog nie gaan lê nie.
LEES: Konstruksiestof warrel op: Nog ses in hof oor toegekende hospitaaltender
LEES: John Block in hof op nuwe aanklagte van bedrog
LEES OOK: Omstrede hospitaal van R2 miljard steeds in onbruik



You must be logged in to post a comment.