Praktyke vir boere om klimaatslim en suksesvol saam met die veranderende klimaat te boer, word eersdaags op ’n boeredag in die Kenhardt-omgewing uitgelig.
Belangstellendes wat dié geleentheid op Dinsdag 15 Oktober bywoon, kan verseker wees van ’n insiggewende program met praktiese inligting.
Dit word op die plaas Nooitgedacht van Charl Saunderson van die Kenhardt-omgewing aangebied, wat in Augustus as die Veeplaas-klimaatslim-ambassadeur vir 2024 aangekondig is.
Die Veeplaas-klimaatslim-ambassadeur-projek word sedert 2022 deur Plaas Media, in samewerking met die weidingkundige en landboukonsultant dr. Louis du Pisani, aangebied.
Du Pisani sal die program inlei met agtergrond oor die kompetisie en met inligting oor klimaatslim-boerderypraktyke.
Daarna gesels Saunderson oor die pilare van sy klimaatslim-boerderypraktyke, en ’n gesprek oor sy veldbestuur vind ook plaas.
Volgens Saunderson is só ’n projek ’n lewenslange onderneming, en dit lyk dikwels te groot om aan te pak. Hy sê as ’n mens dit egter in kleiner en meer hanteerbare projekte opdeel, en dit stukkie vir stukkie aanpak totdat jy resultate sien, is dit nie moeilik om jou boerdery volhoubaar te maak nie.
’n Verteenwoordiger van Zoetis gesels oor bloednier en pasteurella by skape, en ’n verteenwoordiger van Nedbank lig boere in oor finansieringsopsies.
Gaste kry ook die geleentheid om tydens ’n paneelbespreking deur Du Pisani, Saunderson, dr. W.A. Lombard van Veeplaas en ’n kundige in landbouekonomie, vrae te vra.
Deel van die verrigtinge is ’n ploegdemonstrasie, aangesien dit ’n belangrike komponent van veldherstel behels.
Die boeredag begin om 09:30 en sal teen 14:00 klaar wees. Middagete word verskaf. Bywoning is gratis, maar beperkte plek is beskikbaar.
Belangstellendes moet hulle vroegtydig by die organiseerder, Deidré Louw, registreer. Stuur ’n WhatsApp-boodskap na, of skakel, 066-231-2430 om te registreer. Belangstellendes word hierna op ’n WhatsApp-groep geplaas waar alle toepaslike reëlings vir die geleentheid gekommunikeer sal word.


