Oor ’n week van nou af vier ons Kersfees.
Nog ’n jaar het ten einde gekom.
Doodgeruk soos ’n ou plaastrekker wat sonder diesel gaan staan het.
Mense is nou oor die land heen versprei.
Sommige kuier by hul huis.
Ander kuier langs die kus.
Daar is diegene wat verkies om nou tuis te bly en vroeg in die nuwe jaar te kuier.
Planne werk nie altyd uit nie.
Baie mense wat wou weggaan, kan – om verskeie redes – dit nie doen nie.
Heelwat mense wat hierdie tyd van die jaar op ’n spesiale manier wou vier, kan – om verskeie redes – dit ook nie doen nie.
Uiteindelik maak ’n mens die beste wat jy kan met wat jy het.
Om herinneringe bymekaar te maak en tyd deur te bring saam met die mense wat baie vir jou beteken, is iets besonders.
Baie keer is dit juis die onbeplande en onverwagse wat die beste herinneringe oplewer.
Volgende jaar voel nog baie ver.
Asof daar ’n paar maande tussen nou en volgende jaar lê.
Die werklikheid is dat 2025 op die horison lê en loer.
Maak die beste van die volgende paar weke.
Doen inkopies.
Kuier. Lag. Swem. Speel.
Reis. Rus.
Skep asem van die geharwar. Skakel af.
Breek die roetine.
Eersdaags is almal terug op hul plek en aan die hardloop.
Geniet die laaste stuiptrekkings van 2024.
Mag julle ’n wonderlike 2025 beleef.

