Naas die waar-is-die-ander-sokkie-raaisel is die feit dat ’n mens elke nou en dan die binnekant van ’n yskas moet skoonmaak, ook ’n raaisel.
Hoe gebeur dit dat die binnekant van ’n yskas vuil raak?
Daar is soms die melk wat lek of die konfythouer wat taai raak, maar nie genoeg om ’n volskaalse skoonmaakveldtog te regverdig nie.
Dit wat binne-in die yskas gehou word, is relatief skoon. ’n Mens was in baie gevalle jou hande voordat jy hiermee werk.
Die werkoppervlak is gewoonlik relatief skoon.
Begin jy dit wat in die yskas is, uithaal en afvee, besef jy hoe vuil die rakke is.
Dit is soms so vuil dat jy dit nie net kan afvee nie.
Dit moet uitgehaal en met water en seep gewas word. Dieselfde met die rakkies in die yskasdeur.
Hoe is dit moontlik?
Na afloop van hierdie groter-as-wat-jy-gedink-het-oefening bekyk jy dit wat in die yskas oorbly.
Jy het hier en daar ’n houertjie weggegooi, maar die res is in die yskas teruggesit. Elkeen op sy plekkie waar dit voor die skoonmaak gestaan het.
Volgens jou was dit nou ’n eenmalige oefening. Iets wat ongesiens uitgerafel het. Iets wat nie binnekort weer sal gebeur nie. Jy word egter verkeerd bewys.
Behalwe vir al die ander onverklaarbaarhede in hierdie wêreld, sit ons boonop met dié twee: Waar is die ander sokkie heen en waarom raak die binnekant van ’n yskas so vuil?

