Spesifieke dekades het ’n groter invloed op ’n mens se lewe as ander.

Oorweeg hoe drasties ’n mens se lewe tussen die ouderdom van tien jaar en 20 jaar verander.

Dieselfde met die dekade tussen die ouderdom van 65 jaar en 75 jaar.

Hoewel dekades van mekaar verskil, bly die lengte dieselfde. Almal het ongeveer dieselfde aantal dae, ure en minute.

Sommige dekades sloer.

Sommige dekades vlieg verby.

Op 10 September 2014 het my skryfwerk die eerste keer amptelik onder die naam “Potpourri” verskyn.

Ek was so opgewonde daaroor dat ek daardie deel van die koerant uitgeknip en in ’n raampie gesit het. Daardie raampie met dié inhoud bestaan steeds.

Amper 500 rubrieke en ’n hele aantal artikels later kyk ek terug op iets wonderlik positief.

Soms bied iemand jou ’n geleentheid aan waarop jy agterna terugkyk en waaroor jy dankbaar is jy het dit aangegryp.

Om weekliks ’n rubriek te lewer is soms ’n baie groot uitdaging.

Ek glo die meeste rubriekskrywers voel so. Voordat jy weet, is die sperdatum op jou.

Geen mens behaal sukses uit sy eie nie. Daar is altyd iemand wat ’n mens op ’n manier gehelp het om sukses te behaal.

Dankie vir die geleentheid wat my tien jaar gelede aangebied is. Dankie vir diegene wat in my glo. Dankie vir kosbare lesers en terugvoering wat ek gereeld kry.

Wie weet wat die volgende dekade gaan inhou?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article