man holding chess piece
Ter illustrasie Foto: Pixabay

Sy sug en staar in die verte na niks besonders nie. “Die probleem is dat sy nie haar eie beperkinge ken nie.”

Van kleins af word ons aangemoedig om ons beste eienskappe te identifiseer en te verbeter.

Ons word geprys wanneer ons in iets uitblink en ontmoedig om dinge te doen waarin ons nie so goed vaar nie.

John Maxwell is van mening dat ‘n mens die bogenoemde stelling logies kan uitredeneer.

Gestel jy kan met oefening en inspanning iets wat jy doen, met 20% verbeter.

Dit beteken as iets spesifieks vir jou maklik is en jy dit teen 70% kan baasraak en daaraan werk, kan dit jou tot by 90% uitbring.

Dit beteken ook as iets spesifieks vir jou moeilik is en jy dit teen slegs 30% kan baasraak – en jy dit deur oefening en inspanning met 20% verbeter, dit jou by 50% uitbring.

Waarom wil ons tyd en energie aan iets bestee wat vir ons moeilik of onverstaanbaar is om ons by ‘n beste-beste van 50% uit te bring? Dan kan ons netsowel die tyd en energie aan iets bestee wat vir ons relatief maklik is om ons by 90% uit te bring.

Daar is wonderlike mense met hope selfvertroue.

Soveel selfvertroue dat hulle glo hulle kan enigiets onder die knie kry, maak nie saak hoe moeilik dit is nie.

Dalk steek daar waarheid hierin, maar dit is ongelukkig nie so maklik nie.

In baie gevalle frustreer hulle die mense om hulle − juis omdat hulle nie sien wat hulle moet sien nie: Dat hulle nie hierdie uitdaging binne ‘n redelike tyd gaan baasraak nie.

Dit is belangrik dat elkeen van ons weet waartoe ons in staat is. Dit is dalk net so belangrik dat elkeen van ons weet waartoe ons nié in staat is nie.

Lees nog rubrieke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.