Daar is ’n Afrikaanse spreekwoord wat lui: “Aan jou vriende sal jy geken word.”
C.J. Langenhoven het gesê: “Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.”
Vriende is kosbaar. Sommige vriende wissel van tyd tot tyd.
Ander vriende bly vir dekades op ’n meerdere of mindere mate deel van ’n mens se lewe.
Dit is waarskynlik nie die kwantiteit van vriende nie, maar eerder die kwaliteit van vriende wat waarde tot jou lewe toevoeg.
Ek het onlangs, om verskeie redes, ’n hele aantal nuwe mense ontmoet.
Van die mense was vriendinne met iemand wat ’n paar jaar gelede oorlede is.
Die manier waarop hulle haar onthou, het my opgeval.
Dit is maklik om die beste van mense te onthou wat nou nie meer daar is nie.
Hierdie was vir my anders.
Hierdie kosbare herinneringe is diep in verskeie mense se hart gewortel.
Ek het nooit die voorreg gehad om jou te ontmoet of te leer ken nie.
As ek na jou vriendinne kyk, weet ek dat jy ’n unieke, besonderse mens was. Dit sou nie moontlik gewees het om hierdie soort vriendinne in jou lewe te hê as die teendeel waar was nie.
Soms kyk ’n mens na iemand en wonder hoe hul vriende daar uitsien. Soms wonder ’n mens of hulle inderwaarheid enige ware vriende het.
Dankie vir kosbare vriende wat ons lewe, sowel as ons nagedagtenis, verryk.

