Potpourri: Vrae ’n teken van kennis

Om te weet dat jy nie weet nie is ’n teken van intelligensie.


Om te weet dat jy nie weet nie is ’n teken van intelligensie.

Daar word gesê dat mense wat bewus is van wat hulle nog moet en wil leer, oor bogemiddelde verstandelike vermoëns beskik. Hulle is bewus van die see van kennis wat hulle waarskynlik nie in een leeftyd gaan kan deurswem nie.

Om kennis in te win is ’n heeltydse uitdaging. Nes jy iets onder die knie kry, wink die volgende uitdaging.

Daar is beroepe wat nooit stilstaan nie. Daar is die heeltyd beweging van kennis. Nuwe reëls. Nuwe sieninge. In mediese en rekeningkundige beroepe, byvoorbeeld, moet nuwe kennis aanhoudend versamel en toegepas word.

Dan is daar mense wat voel hulle weet alles.

Ek verwys nie na mense met ’n breë algemene kennis of baie ondervinding nie. Ek verwys na mense wat nie besef hoe min hulle van ’n sekere onderwerp weet nie.

Dit is ook die soort mens wat nooit vrae vra nie. Bloot omdat hulle nie weet dat hulle nie weet nie.

’n Mens wonder soms of dit net hardkoppigheid is wat hulle laat aanhou wanneer hulle al moes opgee. Dalk besef hulle werklik nie hoe min hulle weet nie.

Hoe dit ook al sy, hulle probeer met selfvertroue opmaak vir die teoretiese kennis of praktiese ondervinding wat hulle kortkom.

Mag ons almal weet dat ons nie weet nie.

You need to be Logged In to leave a comment.