question marks on paper crafts
Credit: Leeloo The First / pexels.com

Ek stap by die winkelsentrum uit. ‘n Vrou kom van voor af. Sy gaan staan. Vroetel in haar handsak en haal haar motorsleutels uit. Sy wys die afstandbeheer in die parkeerarea se rigting en druk die knoppie.

Sy wag ‘n oomblik. Dan draai sy om en stap verby my terwyl sy haar motorsleutels in haar handsak bêre.

Ek is dankbaar ek is nie die enigste een wat dit doen nie.

Ek sal veralgemeen as ek sê ons vroue het meer dinge om aan te dink as mans.

Dalk net kleiner, meer op-mekaar-goed. Het ek die voertuig gesluit? Het ek die stoofplaat afgeskakel? Het ek die voordeur gesluit? Het ek die tuinhekkie toegetrek? Het ek die motorhuisdeur toegemaak?

Alles vrae wat ontstaan uit moontlike krisisse wat kan voortspruit indien ons nie kopknikkend op hierdie vrae kan antwoord nie.

Soms is die antwoord op so ‘n vraag maklik. Iewers onthou jy dat jy die hond met jou voet gekeer het toe hy wou uitglip en toe die tuinhekkie toegemaak het.

Jy onthou dat jy gedink het die stof op die motorhuisdeur moet Saterdag afgespuit word – terwyl jy die motorhuisdeur laat sak het.

As jy op die een of ander manier ‘n aksie daaraan kan koppel, word antwoorde logies en haalbaar. As jy nie kan nie, kan dinge ingewikkeld raak. Jy vertel jouself jy het inderdaad die stoofplaat afgeskakel. Jy het. Jy moes. Jy is seker daarvan.

Jy onderdruk hierdie herhalende gedagte soos ‘n strandbal wat jy onder die water probeer hou. Elke nou en dan spring dit weer op.

Het ek die stoofplaat afgeskakel?

Ek het.

Ek moes.

Ek is seker daarvan.

Soms word ons deur ander as verstrooid ervaar. Ons is nie. Ons probeer net tred hou met baie vrae wat daagliks deur ons brein jaag.

You need to be Logged In to leave a comment.