Hoewel Koos een van die ouer inwoners by die aftree-oord was, het hy gesonder as die meeste inwoners daar uitgesien. Dit het hom in staat gestel om selfs jonger inwoners rond te ry en te help.

Hy het graag mense gehelp. Dit het nie by hom saak gemaak watter soort hulp hy kon verleen nie, hy het dit altyd met ‘n goeie hart gedoen.

Op hierdie betrokke dag het een van die inwoners hom gevra om hom apteek toe te neem om ‘n voorskrif te kry. Die inwoner was die vorige dag met ‘n geleentheid by die dokter, maar kon ongelukkig nie by die apteek uitkom nie.

Koos het dadelik ingestem om te help. Hy het so na as moontlik aan die apteek parkeer en verduidelik dat hy in die voertuig sou wag terwyl sy mede-inwoner sy voorskrif gaan haal.

Die gewag het langer aangehou as wat hy oorspronklik beplan het. Die apteek was seker besig, het hy homself wysgemaak.

Heelwat later het sy mede-inwoner uit die apteek te voorskyn gekom en in die motor geklim. Hy het Koos bedank dat hy hom apteek toe gebring het.

Toe hy voor sy huis by die aftree-oord afgelaai word, het hy verleë sy hand in sy hempsak gesteek en ‘n voorskrif te voorskyn gebring.

“Ek is jammer, Koos,” het hy gesê.

“Ek het so met die apteker gesels dat ek vergeet het om die voorskrif in te gee.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article