Soos met alle begrafnisdienste was die atmosfeer op hierdie een geweldig emosioneel. Iemand wat op ’n baie jong ouderdom sy lewe verloor het.
Deur die trane het ek die begrafnisblaadjie oopgeblaai.
Vier woorde het my aandag getrek: “Slegs liefde, geen verwyte”.
Dit het my ’n oomblik tot stilstand gedwing.
Ek het oor my lewe en die mense na aan my gedink. Vriendinne. Kennisse. Kollegas.
As een van ons skielik te sterwe sou kom, is dit iets wat ons ook sal kan sê?
Of gaan daar nie slegs liefde wees nie, maar ook kwade gevoelens? Dalk verwyte wat in een of albei rigtings geslinger is.
Die spesifieke konfliksituasies wat toe in my gedagtes opgekom het, is almal afgehandel en daar is in vrede voortgegaan.
Daar is natuurlik diegene wat op konflik gedy en dit byna onmoontlik maak om in vrede te leef.
Maar oor die algemeen was daar vrede in my hart en in my gemoed, asook by diegene na aan my.
Wat ’n kosbare paar woorde om vir iemand te kan sê.
En dit te kan bedoel.
Dalk is dit nie net by die afsterwe van geliefdes van toepassing nie.
Ons dogter het onlangs na ’n nabye provinsie verhuis. Toe ons die laaste paar goed van haar wat by ons gestoor was, gaan aflaai, het ons haar gegroet en vertrek.
Terwyl ons wag vir die veiligheidshek om oop te maak, kom hierdie vier woorde by my op: “Slegs liefde, geen verwyte”.


