Ons woon op ’n hoekerf. Die oppervlakte is baie klein en soos met enige sypaadjie in die Noord-Kaap is dit ’n konsternasie om ’n grassie hier aan die lewe te hou.
Ons het uiteindelik opgegee en woestynplante op die sypaadjie geplant. Maar, sou ons uitvind, selfs met woestynplante moet ’n mens van tyd tot tyd met bykomende water ingryp, anders vrek hulle.
So het ons sproeiertjies aangelê om hiermee te help.
Hierdie sproeiertjies moet gereeld vervang word. Nie omdat die Noord-Kaapse son hulle stukkend brand nie. Nie omdat ons nie na hulle omsien en in stand hou nie.
Slegs omdat iemand voel dit is hulle reg om hierdie sproeiertjies in die verbygaan af te breek.
’n Mens wonder watter soort mens voel beter wanneer hy iemand anders skade berokken het.
Ek twyfel sterk of dit net by ons is dat hierdie persoon skade aanrig. Ek kan myself voorstel dat breekskade hom soos ’n voetspoor volg.
Om die sproeiertjies reg te maak neem nie soveel tyd en arbeid in beslag nie. Deur die jare het ons geleer om ’n spens vol onderdele byderhand te hou – net ingeval dit benodig word. Van tyd tot tyd moet ons hierdie spens opvul.
Dit is eintlik die gedagte agter hierdie optrede wat ’n mens ontstel. Die doelbewuste besluit om iemand anders se eiendom te beskadig. Anoniem te beskadig.
Breek jou eie goed as jy iets wil breek. Of is alles reeds stukkend?

