Sy gooi haar kop agteroor soos sy lag. “Jy moet asseblief hieroor skryf. Daar is soveel mense wat verdwaal, hulle sal dit waardeer om te weet hulle is nie alleen nie.”
Ek glimlag. Min mense verdwaal met soveel oorgawe soos ek.
“Sê weer daardie sin,” lag sy.
Ek haal diep asem.
“Ek het 6 km soontoe gery en 90 km terug.”
Sy gooi weer haar kop agteroor soos sy lag.
’n Paar dekades gelede het my man vir ’n onderhoud in ’n ander provinsie gegaan.
Die ooreenkoms was dat ek hom by die besigheid sou aflaai en ek en die kinders na die nabygeleë winkelsentrum sou gaan. Ons sou mekaar weer by ’n spesifieke parkeerterrein ontmoet.
Toe ek by die winkelsentrum uitry en na die padaanwysings kyk, was die plek waarheen ek moes gaan nie daarop aangedui nie. Ek moes ’n besluit neem.
Dit was duidelik die verkeerde een.
Gelukkig het die onderhoud baie langer aangehou as verwag en ons het skaars stilgehou toe my man aangestap kom.
“Waar was julle?” het hy gevra toe hy in die motor klim en dit aanskakel. Nadat ek verduidelik het dat ons net winkelsentrum toe was, het hy ontsteld gesê: “Dis onmoontlik, die brandstof lê op half.”
“Ek het verdwaal,” het ek sag geantwoord.
Mense wat nie gereeld verdwaal nie, het nie simpatie met ons letterlik-rigtinglose-wesens nie.
Aan die lesers wat soos ek verdwaal: Wie weet, dalk verdwaal ons mekaar iewers raak.

