“Is jy spyt oor besluite wat jy in jou lewe geneem het?” vra sy. Ek kan sien hoe sy op my antwoord wag.

Ek dink ’n oomblik na oor my verkeerde besluite. Te veel om op te noem. Die groter prentjie is dat ’n mens moet kyk na waar jou besluite, reg of verkeerd, jou uitgebring het.

Elke groot, belangrike of lewensveranderende besluit het jou op ’n spesifieke pad geplaas.

Is die plek waar jy jouself op die oomblik bevind vir jou aanvaarbaar? Is jy gelukkig daar?

Indien wel, hoe kan ’n mens jouself aanhou kasty oor verkeerde of slegte besluite? Dit is deel van wat jou by jou huidige bestemming uitgebring het.

Ons weet immers nie wat vir ons sou wag as ons ander besluite geneem het nie. Baie mense sê hulle moes nooit ’n spesifieke werksaanbod aanvaar het of ’n sekere geleentheid laat verbyglip het nie.

Geen lewenspad is sonder uitdagings nie. Sou ons kon teruggaan en ons verkeerde besluite verander, sou ons weer ander soorte uitdagings te bowe moes kom.

Min mense neem besluite met die doel om te faal of om skade aan te rig. Uiteindelik moet ons uit ons verkeerde besluite leer. Onsself vergewe. Aanbeweeg. Weer probeer.

Daar word gesê: “Sometimes you make the right decision. Other times you make the decision right”.

Bestee eerder jou energie daaraan om toekomstige besluite beter te neem as om heeltyd spyt te wees oor dinge wat jy meen jy verkeerd gedoen het.

You need to be Logged In to leave a comment.