Baie mense ervaar ’n patroon waar mense met ’n spesifieke van hul pad kruis. Mense sal praat van die Steyns of Bothas wat gedurende hul lewe groot rolle gespeel het. In my geval is dit die Du Plessis’s en die Van Heerdens.

My skoolloopbaan het met juffrou Du Plessis as onderwyseres begin. My laerskoolloopbaan het in meneer Du Plessis se geskiedenis- en aardrykskundeklas afgesluit.

Hy sou die lig in ’n donker klaskamer aanskakel en, terwyl die buisligte flikker, altyd sê: “Kom ek gee julle helderheid van verstand.”

Daarvandaan het ’n Du Plessis elke nou en dan my pad gekruis.

’n Paar jaar gelede het ons ’n begrafnis in Bellville bygewoon.

Ek het so siek geword dat ek na die ongevalle-afdeling moes gaan. Terwyl die dokter aan diens wegstap om vir my medikasie te kry, het my man gevra of ek sien wat hierdie dokter se van is. Ek het my kop geskud.

“Du Plessis,” het hy gesê en geglimlag.

Dieselfde met die Van Heerdens. Hulle het my pad van jongs af gekruis en deur die loop van my lewe bydraes gelewer.

Kêrels. Werkgewers. Vriende. Bure. Kliënte.

’n Tyd terug het ek iemand raakgeloop wat nie ’n Van Heerden is nie, maar wat in Van Heerdenstraat in die Vrystaat grootgeword het.

Dankie aan al die Du Plessis’s en die Van Heerdens. Sonder julle sou my lewe saai daaruit gesien het.

Watter vanne kruis gereeld jou pad?

You need to be Logged In to leave a comment.