Ongelukkig kan ’n mens nie alles koop wat jou oë sien of jou hart begeer nie.
Geleentheidskoste bepaal dat jy nie met dieselfde geld meer as een ding kan koop nie – jy moet kies op watter geleentheid jy geld bestee.
As jy jou geld op ’n seevakansie bestee, moet die vakansie in die berge eers wag.
Baie van dit waarop mense hul geld bestee word deur prioriteite bepaal.
Al hoe meer ondernemings kla dat hul debiteurskoste gedurende Desember die hoogste van die jaar is.
Doen hulle navraag oor wanneer uitstaande rekeninge vereffen gaan word, verneem hulle dat mense weg is met verlof – meestal see toe.
Ek sê nie jy moet jou seevakansie opoffer omdat jy iemand R50 skuld nie, maar vereffen jou skuld voordat jy die pad see toe aandurf.
Soms probeer mense jou oortuig dat hulle nie geld het nie. Ongelukkig is dit in baie gevalle waar.
Dieselfde persoon wat jou oortuig dat hulle nie jou rekening kan vereffen nie, is Desember iewers op ’n strand – terwyl diegene wat vir hulle geld wag nie die geleentheid gegun word nie.
Persone wat jou oortuig dat hulle nie vir sekere uitgawes geld het nie, is dieselfde persone wat geld aan allerlei nie-noodsaaklike items bestee.
Baie mense het in ’n mindere of meerder mate geld om te bestee. Hulle verkies net om hul prioriteite so te rangskik dat dit net hulleself pas.

