’n Paar dekades gelede het twee werknemers hul humeur verloor en handgemeen geraak.

Die een wat die slegste daarvan afgekom het, het ’n klag van aanranding by die polisie ingedien.

Toe die hofsaak voorkom, het albei vol selfvertroue hul kant van die storie vertel.

Tydens kruisverhoor het die staatsaanklaer aan die beskuldigde verduidelik dat hy inderdaad skuldig bevind kan word.

Die beskuldigde se oë het gerek. Hy was opmerklik verbaas oor hierdie stelling.

“Hoe kan ek skuldig bevind word?” het hy gevra.

“Ek het daardie man gewaarsku – as hy weer met sy twak begin, gaan ek hom te lyf gaan.

“Toe begin hy weer met sy twak. Toe gaan ek hom te lyf. Ek kan nie skuldig bevind word nie – ek het hom gewaarsku.”

Soms voel ’n mens só.

“Ek het die persoon gewaarsku,” wil ’n mens sê.

Mense doen nie altyd hul deel nie.

Ander mense wil hulle nie noodwendig net uitlewer nie.

Daarom word daar geduld aan die dag gelê en gepraat. Gevra. Gesoebat. Gepleit. Gedreig. Selfs gewaarsku.

Tot die dag dat ’n mens genoeg gehad het en al die opgeboude frustrasie die spreekwoordelike emmer laat oorloop. Die laaste druppel.

Opgelos word die struweling opgelos, maar nie altyd soos daar gehoop word nie.

Uiteindelik voel dit asof ’n mens iemand ook te lyf kan gaan, terugstaan en sê: “Ek het hierdie persoon gewaarsku.”

You need to be Logged In to leave a comment.