“Karin, doen my asseblief ’n guns,” roep hy my terug toe ek uit sy kantoor tot in die gang stap.

Ek draai om en stap terug na sy lessenaar.

Ek blaai in my notaboekie na ’n skoon bladsy en hou my drukpotlood gereed.

Ek wag.

“Draai asseblief die tyd stadiger dat ons meer werk afgehandel kry. Kyk hoeveel het ons nog om te doen voordat die jaar verby is,” glimlag hy.

Ek dink ’n oomblik na oor sy versoek.

“En as ek die tyd stadiger draai en die ratte breek?” vra ek bekommerd.

“Dan bly ons net by vandag. By hier. By nou. Vir altyd.”

Soms wens ’n mens dat jy die tyd kon laat stilstaan.

Dalk is jy op ’n wonderlike plek in jou lewe; of het jy, soos baie ander mense, geweldig baie werk om weg te werk.

Soms sou ’n mens graag die tyd wou terugdraai.

Heerlike herinneringe kan dan weer herleef word. Dalk saam met geliefdes wat jy nie meer naby jou het nie.

In ander gevalle sou jy die tyd wou vorentoe draai.

Dalk aandraai tot ná ’n moeilike eksamenvraestel of groot operasie. Dalk aandraai na die seevakansie toe.

Gestel ons almal sou die tyd kon stadiger maak, terugdraai of vorentoe draai soos dit ons eie omstandighede pas.

Watter totale chaos sou dit nie veroorsaak nie.

Sekondes word minute.

Minute word ure.

Ure word dae.

Dae word weke.

Maande. Jare.

Dekades. Eeue.

Gebruik die tyd wat jou toegedeel word – terwyl jy dit nog het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article