’n Hele paar dekades gelede was die Afrikaanse onderwyseres baie moedeloos met ’n herhaaldelike fout wat haar leerlinge begaan het.

Op die jong ouderdom van tien jaar was ’n formele brief se afsluiting vir hulle verwarrend. Hulle het deurmekaar geraak met waar die titel hom moes bevind; afhangende van of ’n man, of ’n ongetroude of getroude vrou die brief geskryf het.

Op hierdie betrokke oggend het die onderwyseres die klas binnegestorm en op haar normale dramatiese manier haar hande in die lug gegooi.

“Waar sit ’n getroude vrou se titels?” het sy uitgeroep.

’n Geskokte stilte het gevolg.

Niemand wou waag om te raai wat hierop gaan volg nie.

“ ’n Vrou se titels sit vóór!” het sy met oorgawe beduie.

“Voor!”

Al die leerlinge het asem opgehou. Sy gaan in soveel moeilikheid wees as Meneer hiervan moet uitvind.

Niemand het egter ’n woord gesê nie en hierdie geleentheid het ’n stille dood gesterf.

In die daaropvolgende eksamen het hulle ’n formele brief gekry wat deur ’n getroude vrou geskryf is. Almal het volpunte vir die afsluiting van hulle formele briewe gekry.

Sommige mense glo ’n titel maak van jou ’n beter mens. ’n Titel beteken nie noodwendig dat jy die werk kan doen nie.

Uiteindelik is dit al wat daardie dag van titels geleer is – nie hoe belangrik dit is nie, maar wel dat ’n getroude vrou s’n (in die geval van ’n formele brief) voor sit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article