Dink ’n mens vir ’n oomblik daaroor na, wonder jy of warmwatertoestelle en pypleidings nie inderdaad ingeboude wekkers en ’n verwronge humorsin besit nie.

Wanneer ’n warmwatertoestel bars of ’n pyp iewers in die huis begin lek, is dit gewoonlik oor ’n naweek wanneer geen professio­nele mens dadelik beskikbaar is om jou uit hierdie verknorsing te red nie.

Gelukkig bly ons in ’n provinsie waar omgee-mense ingryp en ’n helpende hand verleen – selfs al is dit net met gereedskap en morele ondersteuning.

As jy, soos ons, gelukkig is, is dit ’n hulpvaardige buurman wat inspring en die water wat oraloor uitspuit tot halt roep. Dit terwyl hyself met uitdagings doenig is – en ’n naweek is immers kosbaar en van korte duur. Geen mens wil dit regtig op goed bestee waarvoor jy nie beplan het nie. Veral nie lekkende waterpype nie.

Ons staan gespanne en asem ophou terwyl die stopkraan oopgedraai word.

“Meer as dit kan ek nie doen nie, oom,” beduie ons buurman.

“As hierdie nie werk nie…”

Hy sug en hou die koppelstukke haarfyn dop.

Geen water spuit ongenooid uit nie. Ons almal slaak ’n sug van verligting.

Ons bedank ons buurman.

“Ek stuur vir jou ’n boksie sjokolade oor,” skerts ek terwyl ons groet.

Hy glimlag.

“Ek is stout vir ’n boksie sjokolade, baie dankie.”

Dankie vir bereidwillige mense met helpende hande wat warmwatertoestelle en pypleidings se onvanpaste tydsberekening in die kiem help smoor.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article