Ek ontmoet onlangs ’n vriendin by ’n bekende restaurant.
“Dit is die enigste tafel wat beskikbaar was,” beduie sy deur die lawaai toe ek oorkant haar by die tafel inskuif. Ek antwoord, maar my woorde word deur die musiek weggevoer.
Ná ’n paar minute is dit duidelik dat ons mekaar regtig nie kan hoor nie. Waarskynlik omdat ons reg langs die luidspreker te lande gekom het.
’n Tafel ’n entjie verder weg raak beskikbaar. Ek vra die kelner of ons daar kan gaan sit omdat ons mekaar nie kan hoor nie.
Kort nadat ons van plek verwissel, kom ons agter waarom die tafel beskikbaar was. Dit is reg langs die kleingoed se speelpark. Hul uitbundigheid maak dit vir ons net so moeilik om mekaar te hoor.
Teen die tyd dat die kelner ons drinkgoed bring, beduie ek dat ons iewers verder weg moet sit.
Hy loer deur die restaurant en knik opgewonde sy kop. Daar is ’n tafel in die oorkantste hoek beskikbaar.
Ek neem eerste my plek in.
“Mag ek asseblief sit waar jy nou sit?” vra my vriendin.
Ek staar haar ongelowig aan.
“Ons het nog niks gekuier nie, ons trek nog net van plek tot plek,” kla ek.
“Ek is jammer,” sê sy laggend.
“Die krieket word uitgesaai en as ek aan hierdie kant sit, gaan ek krieket kyk en nie met jou kuier nie.”
Ek sug.
Ek ruil met haar plekke om.
“Nou skuif ek nêrens heen nie,” sê ek ferm.

