2023 lê voor ons uitgestrek.
Soveel om te doen. Soveel om te oorleef.
Eersdaags word Valentynsdag gevier. Voordat ons tot verhaal kom, gaan Paasfees aanbreek. Daarna staar ons nog ’n winter in die gesig. Nadat die winter uiteindelik gegroet het en die somer ’n draai begin maak, word Kersversierings amper weer opgehang.
Dan begin mense ná ’n baie lang jaar na hul verlof uitsien.
Dít is die komende jaar in ’n neutedop. Net soos vorige jare en komende jare.
Ná die chaos van grendeltyd dink ek ons beskou die begrip “vervelig” in ’n ander lig. Die meeste mense verkies nou “vervelig” – net solank hulle ’n idee het van wat voorlê.
Dalk gaan dit beter wees as ons die nuwe jaar in stukke opbreek. Dalk voel ons minder oorweldig.
Eers moet ons deur Januarie beur, want hierdie tyd van die jaar klop niemand se begrotings nie. Leerlinge moet terug skool toe. Die meeste mense moet terug werk toe. Teen die tyd dat ons Januarie weggewerk het, gaan Februarie met sy finansiële jaareinde aanbreek. Dit is ’n uitdaging op sy eie.
Teen Maart gaan ons trots wees op die eerste paar maande wat ons suksesvol afgehandel het.
Teen April begin die jaar spoed kry en teen Augustus sal ons nie kan glo waar ons trek nie.
Sterkte met die jaar wat voorlê. Mag dit ’n voorspoedige en suksesvolle jaar met hope liefde en vrede wees.

