’n Paar kollegas staan en gesels oor onlangse gebeure by die kantoor.
Meer spesifiek gesels hulle oor die invloed wat dit het as mense iets nie ter wille van die groter prentjie doen nie, maar net om iemand in die rug te steek.
“Hulle speel die man, nie die bal nie,” gee iemand sy mening.
Dit is so waar.
Kyk ’n mens na ’n rugbywedstryd, is dit waaroor dit gaan – om die bal soveel keer as moontlik in ’n spesifieke tyd oor die doellyn te kry. Nie om soveel as moontlik teenstanders op die krukkelys te sit nie.
Hou jy jou oog op die bal, is die kans vir sukses net soveel groter.
Speel jy die man, is die kans goed dat jy die bal uit die oog verloor.
Sonder om te weet waar die bal is, gaan dit baie moeilik wees om ’n wedstryd te wen.
Daar is spanne wat bekend daarvoor is dat hulle die bal speel.
Dan is daar ander spanne wat bekend staan vir hul venynigheid.
Die bal is vir ’n sekere doel gemaak, nie die mense wat daarby betrokke is nie.
Sommige kollegas sal nie twee keer dink om eerder die man as die bal te speel nie.
Figuurlik gesproke natuurlik.
Soveel energie gaan in hierdie proses verlore.
As daar ’n probleem is, fokus op die probleem en hoe om dit op te los.
Speel die bal, nie die man nie.

