Kimberley is vir ’n groot deel van die afgelope week deur die afwesigheid van water gekenmerk. Nie beperking of vermindering nie. Afwesigheid. Van water. Wat lewe is.
’n Gesin met twee klein kindertjies staan verward by die ingang van die openbare toiletgeriewe in ’n groot winkelsentrum terwyl dit gesluit is. ’n Verbyganger lig hulle in dat daar vir ’n hele paar dae nie water is nie. Hul gesigsuitdrukkings sê alles.
Die waterprobleem in Kimberley is redelik algemeen, maar nie so algemeen dat besoekers vanaf kleiner dorpe sal voel dat dit voor hul vertrek eers op internet nagevors moet word nie.
Wat van vakansiegangers wat op pad huis toe besluit om in Kimberley asem te skep voordat hulle verder ry?
Iets waaroor ek dikwels wonder is die wonderbaarlike beskikbaarheid van elektrisiteit gedurende hierdie waterkrisisse.
’n Groot bekommernis is dat mense met watertenks nie noodwendig die gebruik van die water het wanneer daar beurtkrag is nie. Maar telkemale is die voorsiening van elektrisiteit blykbaar nie ’n probleem tydens ’n waterkrisis nie.
Dit laat ’n mens wonder hoe groot die elektrisiteitskrisis werklik is. Of moet ’n mens net dankbaar wees vir hierdie geweldige toevallige sameloop van omstandighede sodat ’n mens nie vir dae aaneen sonder water en elektrisiteit sukkel nie.
Wat doen ’n mens sonder water?
’n Mens gaan dood sonder water. So ook plante en diere.
Mag die waterkrisis binnekort permanent opgelos wees. Nie net in Kimberley nie, maar oraloor.

