Verskillende lande word elk deur unieke uitdagings gekenmerk.
As ’n mens kyk na spotprentjies en grappies wat die ronde doen, is daar een uitdaging wat wêreldwyd voorkom: Een sokkie wat soek raak.
Is dit nie vreemd hoe ’n mens twee sokkies van dieselfde kleur, dieselfde grootte en dieselfde patroon in ’n wasmasjien gooi en slegs een van hulle maak agterna sy verskyning nie?
Waarheen sou so ’n sokkie gaan?
Die eerste poging om die sokkie wat sonder toestemming afwesig is op te spoor, is om die binnekant van die leë wasmasjien deur te voel. Niks.
Dan begin jy die pad vanaf die wasmasjien na die wasgoeddraad volg om te sien of dit êrens op die grond lê. Niks.
Daarvandaan loer jy stelselmatig deur die wasgoed op die wasgoeddraad om te sien of dit nie net iewers wegkruip nie. Niks.
Uit pure frustrasie pak jy die sokkies wat twee-twee opgerol is in die laai of mandjie en sit die eensame sokkie sonder maat eenkant. Sy maat moet tog iewers uitkom.
’n Week of twee later lê die sokkie wat jy eenkant gesit het nie meer op sy oorspronklike plek nie. Daar het baie intussen gebeur. Die lewe het aangegaan.
Dan, wanneer jy weer ’n klomp sokkies wegpak en een sokkie sonder maat kry, wonder jy: Is hierdie die oorspronklike sokkie?
Of is dit die sokkie wat weggeraak en nou gekry is?

