Ons het onlangs ’n dokumentêre program oor die uitvoerende direkteur van ’n baie groot motormaatskappy in Japan gekyk. Die direkteur was ook by ’n groot motor­maatskappy in Frankryk betrokke.

’n Werknemer van die maatskappy in Frankryk het aan die direkteur vertel dat daar drie senior werknemenrs in diens van die Japanse maatskappy is wat korporatiewe geheime aan die maatskappy in Frankryk uitlek.

Die drie is summier in die pad gesteek. Sonder ondersoeke. Sonder bewyse. Slegs op grond van gerugte wat doelbewus versprei is.

’n Mens wonder waarom mense so maklik liegstories van ander mense glo, en in baie gevalle sommer daarop reageer.

So moeilik soos dit is om te verstaan waarom mense liegstories goedsmoeds glo, so moeilik is dit om te verstaan waarom mense in die eerste plek liegstories versprei.

As iemand werklik die maatskappy, medekollegas of medepartye te na kom, is dit heeltemal iets anders.

Uiteindelik het die bogenoemde direkteur die drie afgedankte werknemers op nasionale televisie om verskoning gevra, maar die skade was reeds gedoen. Ek weet nie of hulle weer hul oorspronklike poste ingeneem het nie, maar ek sou nie. Hoe lank voordat daar weer die ergste van jou geglo word?

Dalk is dit omdat sommige mense self onseker en onvolwasse is dat hulle beter voel wanneer hulle iemand anders in die moeilikheid laat beland.

Maak seker voordat jy ’n storie soos soetkoek afsluk. Die skade kan nie altyd herstel word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article