Veronderstel jy gee iemand ’n vuurhoutjiedosie met vuurhoutjies daarin. Waarvoor sal hy dit gebruik?
Hy kan dit dalk gebruik om ’n lampie tydens beurtkrag op te steek. Of ’n gasstoof om kos te berei. Hy kan ’n vleisbraaivuur aansteek en ’n vleisie braai. Hy kan kaggelhout daarmee aansteek om gedurende die winter warm te bly.
Gestel jy gee iemand anders dieselfde vuurhoutjiedosie met dieselfde vuurhoutjies daarin. Hy kan dalk ’n gebou daarmee afbrand of ’n groot stuk weiding daarmee vernietig.
Of hy kan absoluut niks daarmee doen nie.
Mense kry baie keer dieselfde soort geleenthede – wat hulle nie noodwendig op dieselfde manier gebruik nie.
Iemand sal byvoorbeeld die kans kry om ’n inkomste vir sy gesin te skep en nie hierdie geleentheid ten volle benut nie. In sommige gevalle sal dit dalk glad nie benut word nie.
Iemand anders sal onder begin, homself opwerk en uiteindelik ’n groot sukses daarvan maak.
Jy kan een mens in ’n drankwinkel loslaat en hom ná ’n geruime tyd nugter daar uithaal. Iemand anders sal dalk die hele wins uitdrink.
Ons almal kry ons spreekwoordelike vuurhoutjies in verskillende vorms.
Die meeste van ons doen onder omstandighede die beste daarmee wat ons kan.
Dit voel soms of daar meer of minder vuurhoutjies aan mense uitgedeel word, asof almal nie dieselfde aantal ontvang nie.
Waarvoor gebruik jy jou spreekwoordelike vuurhoutjies?

