Die meeste mense dra spreekwoordelike rotse met hulle saam. Amper soos Atlas wat die wêreld gebukkend saamgedra het.
Hierdie spreekwoordelike rotse kan ’n verskeidenheid vorms aanneem.
Dalk word hierdie rotse van kinderdae af saamgedra en nooit as volwassene neergesit nie. Dalk is dit iets wat iemand gesê of gedoen het wat swaar op jou skouers en gemoed druk. Dit kan iets by die werk wees. By die skool. By die kerk. In ’n familie of vriendekring.
Soms is hierdie rots iets wat ’n mens self besluit jy met jou gaan saamdra. Dalk omdat jy meen jy verdien dit.
Ander kere is die rots iets wat iemand anders ongenooid op jou skouers plaas. ’n Las wat hulle jou oplê, hetsy doelbewus of onwetend.
Dit is eers wanneer hierdie rots van jou skouers afgelig en in ’n duisend stukkies gebreek word dat ’n mens besef hoe geweldig swaar jy aan die las gedra het.
Jy het met verloop van tyd so gewoond daaraan geraak dat jy vergeet het hoe dit voel om sonder hierdie rots te funksioneer.
Soms is daar ’n deurbraak en kan jy die spreekwoordelike rots self van jou skouers afgooi.
Soms doen iemand anders iets wat hierdie rots vir jou afgooi. Hulle vra om vergewe te word of hulle verdwyn uit jou lewe.
Dit is dan wanneer jy nie meer soos Atlas gebukkend onder hierdie las hoef te steier nie.
Dit is dan wanneer jy weer vrylik asem haal.