Soms wonder ek wat van die wêreld gaan word as daar geen krieseltjie respek bestaan nie.

Namate die jare verbystap, is dit duidelik dat hierdie bousteen eintlik ’n baie skaars artikel word.

Daar is sekere dinge wat op hul plek moet wees voordat enige menseverhouding suksesvol kan verloop. Ons mense is in­gewikkelde wesens.

Selfs wanneer basiese boustene op hul plek is, is interpersoonlike verhoudinge van tyd tot tyd steeds ’n uitdaging.

Ek kry onlangs ’n e-pos van iemand wat my om ’n kwotasie nader. Aan die einde van die tweede sin is ek dankbaar dat dit nie ’n kliënt gaan word nie.

Ek wou vir die man sê dat ’n e-pos vroeër hierdie jaar foutiewelik aan my deur een van sy personeellede gestuur is. Daardie e-pos het ook van ’n tekort aan respek getuig.

Ek wonder of dit is omdat die werkgewer die voorbeeld stel?

Uiteindelik kos goeie maniere niks. Wees beleefd. Behandel mense met respek, veral wanneer dit opreg bedoel word.

Daar is inderdaad mense wat oorloop van goeie maniere, terwyl jy egter met ’n stok kan aanvoel dat hulle dit nie bedoel nie.

Dit is amper erger as om ongeskik te wees.

Selfs al probeer ons, slaag ons nie daarin om mense almal dieselfde te behandel nie.

Sommige mense vryf jou verkeerd op. Ander se gedrag vergoed darem hiervoor.

Dalk is dit uiteindelik wat hierdie ongeskikte mense bereik – dankbaarheid in jou hart teenoor diegene wat jou wel met respek behandel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article