Verlede jaar ontvang ek ’n e-pos van iemand wat aandui dat ek sporttoerusting kan kom afhaal. Nadat ek die e-pos deurgelees het, besef ek dat dit aan die verkeerde persoon gerig is. Die trant van die e-pos grens aan ongeskik.
Ek antwoord en deel in kort my vermoede dat hierdie e-pos eintlik vir iemand anders bedoel was. Ek hoor nie weer van die persoon nie.
’n Paar maande later korrespondeer ek toevallig met hierdie spesifieke persoon se werkgewer. Hy antwoord per e-pos terug. Dit het dieselfde ongeskikte trant as wat sy werknemer se e-pos gehad het.
Dit kan nie toevallig wees nie.
Uiteindelik het ’n werkgewer ’n deurslaggewende invloed op hoe sy werknemers die mense om hulle en in die wêreld daar buite behandel. Afhangende van die werkgewer se voorbeeld en wat hy of sy toelaat, is daar dinge wat seker personeellede sal navolg en daarmee sal wegkom.
As ’n mens met meer as een persoon by so ’n maatskappy te doen het is daar in baie gevalle ’n onheilspellende patroon. Disrespekvol. Selfs ongeskik.
As die werkgewer hierdie optrede as reg beskou syfer dit deur tot op die laagste vlak van sy onderneming. Die teenoorgestelde is ook gelukkig waar.
Hierdie patroon is dikwels baie professioneel en mense word met respek behandel – maak nie saak wie jy is of waar jy inpas nie. Dalk moet werkgewers vir ’n oomblik nadink oor die boodskap wat hulle woordeloos aan hul werknemers oordra en wat vir hulle aanvaarbaar is.

