“Ons het darem baie geleer van die grendeltyd af. Selfs nou met krag- en wateronderbrekings,” sê sy ingedagte.

Sy sien hoe ek in spanning wag.

“Jy weet,” gaan sy voort.

“Ons het geleer om dankbaar te wees. Dankbaar vir mekaar. Dankbaar vir gesondheid. Vir water. Vir elektrisiteit.”

Ek knik my kop.

Die hele wêreld is die afgelope paar jaar deur soveel uitdagings.

Ons geliefde land waarskynlik deur soveel meer.

Baie mense het die punt van dankbaarheid bereik.

Dit wat voorheen as vanselfsprekend aanvaar is, is toe ná alles nie so vanselfsprekend nie.

Mense gaan eers op ’n latere ouderdom siek word. Daar is nog tyd. Ons betaal vir elektrisiteit en water. Dit moet daar wees.

Dinge wat ’n mens verwag het, was dalk ’n misgissing.

Die wêreld soos ons dit geken het, het verander. Daarmee saam baie mense se lewe.

As daar ’n paar jaar gelede ’n voorspelling gemaak sou word dat sekere winkels en bedrywe heeltemal sou toemaak en ander radikaal sou verander, sou mense waarskynlik net hulle kop in ongeloof geskud het. Dit sou net nie moontlik wees nie, maar dit het moontlik geword.

Die son kom op. Die son gaan onder. Die wêreld gaan aan.

Die trauma waardeur die meeste mense moes worstel, het fisieke en emosionele letsels gelaat. Letsels wat dalk ’n leeftyd gaan neem om te genees.

Maar uiteindelik kan ons ons koppe omhoog hou en sê: “Ons het ’n unieke soort dankbaarheid geleer.”

You need to be Logged In to leave a comment.