As kleuter het hy dikwels saam met sy ouers gaan fietsry.

Hy was te klein om sy eie fietsie te ry, daarom het sy pa hom sommer op sy fiets se pyp laat sit.

Dit was altyd vir hom ’n heerlike uitstappie.

Hierdie betrokke dag het sy ma twee pakkies jellie gekoop en kort voordat hulle met hul fietse gaan ry het, het sy een pakkie jellie aangemaak.

Hul kleuter het aandagtig gekyk wat sy doen.

“Kom,” het sy vir hom gesê.

“Ons gaan ry gou fiets dat die jellie solank kan stol.”

Terug by die huis ná die rit het hulle hul fietse gebêre, en sy ma het die gestolde jellie uit die yskas gehaal en onder hulle verdeel.

Die volgende dag was haar man in die tuin doenig en het hulle besluit om nie te gaan fietsry nie.

Sy het die tweede pakkie jellie aangemaak.

“Ons moet nou gaan fiets ry dat die jellie kan stol,” het die kleuter plegtig gesê.

Sy ma het besef dat sy die vorige dag haar kind onder ’n wanindruk gebring het oor hoe die jellie en fietsry by mekaar inpas.

Sy het die verwarring opgeklaar.

Soms wag ’n mens vir een gebeurtenis, met die idee dat dit moet gebeur voordat ’n volgende gebeurtenis kan plaasvind.

Wat ons dalk nie besef nie, is dat die twee gebeurtenisse nie van mekaar afhanklik is nie.

Wat beteken dat een, of albei, in elk geval gaan plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.