a woman in red dress standing on rock formation while raising her hands
Om iets te bereik, moet ‘n mens uitdagings oorwin. FOTO: Quang Nguyen Vinh / pexels.com

Onlangs het ‘n bekende akteur en sanger by ons gemeente opgetree. Ek was onseker oor die optrede, maar het nietemin vir ons kaartjies gekoop. By die tafel waar ons sitplek ingeneem het, het ons geen mens geken nie.

Ons predikant het by elke individu ‘n draai gemaak en hulle gegroet. In die verbygaan het hy vir die mense wat nie in ons gemeente is nie, iets oor hulle lewe uitgevra.

Hy het weer ‘n draai by ons gemaak en gevra ons moet met die bejaarde paartjie langs ons gesels en hulle welkom laat voel.

Uit die aard van my persoonlikheid hoef niemand my so iets te vra nie, maar op hierdie spesifieke aand was ek fisiek en emosioneel uitgeput. Ek het nietemin belowe om te probeer.

Ons sou leer dat hierdie bejaarde paartjie reeds 67 jaar getroud is en dat hulle hul hele lewe in en om Kimberley deurgebring het. Die tannie kon lekker lag en die oom het ‘n besonderse mooi sangstem gehad.

Ons sou ook leer dat ‘n ander paartjie by dieselfde tafel hulle nie baie lank in Kimberley bevind nie. Die man het hier en daar iets van sy werk vertel en watter vreemde werksure hy soms handhaaf. Ons kon sien dat hy geweldig hard werk, maar dat hy terselfdertyd dankbaar is om werk te hê. Ons het heerlik saam gekuier. Saam gelag. Saam gesing. Saam geëet.

Teen die tyd dat die aand einde se kant toe gestaan het, het ek weer iets besef.

Elke mens het sy eie uitdagings. Die feit dat jy so lank getroud is, beteken nie dit was maklik nie. Die feit dat jy werk het, beteken nie dat jy dit altyd geniet nie.

Ons almal probeer die beste doen met wat ons het in ‘n wêreld waarin dit soms moeilik is om te oorleef.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.