smiling woman with a sign
Photo by cottonbro studio on Pexels.com

Skoonpa het met Rooyma en -pa se huwelikseremonie gesê: “Julle werk daagliks of aan jul huwelik of jul egskeiding.”

Die wete dat elke woord of aksie ‘n mens nader aan of verder van jou eggenoot neem, klink onbenullig of klein, maar opgehoopte verwyte kan ‘n wrok veroorsaak.

Keuses bepaal ons lewensloop én die gemak of ongemak daarvan.

Rooyma se huisdokter het eens gebieg gesonder keuses het sy oortollige vetjies laat verdwyn: “Ek moet gedurig kies of ek ‘gummies’ of eerder ‘n vrug gaan eet.”

Mel Robbins, ‘n lewensafrigter en beïnvloeder, meen elke mens staan daagliks tot voor 35 000 keuses.

Sy sê die mensdom swoeg selfs onder keuseuitputting.

Haar raad om hierdie neiging aan te spreek, is om die beskikbare opsies te verminder, van vyf tot een af te tel waarna mens of iets moet doen of ‘n besluit moet neem, jou instink vertrou en by goeie roetines bly.

Die laasgenoemde word sodoende tweede natuur en as jy Rooymier-kinders het, sal hulle jou selfs aan jou voorgenome plan van aksie herinner.

Andersins is die ondersteuning van ‘n eggenoot ook aan te bevele – die diere het immers twee-twee die ark binnegegaan.

Rooypa en -ma maak staat op mekaar se geesdrif om hul oefenroetine getrou te probeer nakom.

Gewone oortreders van die ek-sal-Maandag-weer-dieet-denkwyse weet dis bloot ‘n uitsteltegniek om aan te hou verkeerd eet en ‘n verskoning om nie verantwoordelikheid vir ‘n gesonder lewe te neem nie.

Ongelukkig word dit moeiliker om die smal(ler)weg te vind hoe langer ‘n mens dit probeer vermy.

Genadiglik is ‘n omkeergeleentheid net ‘n besluit ver, ongeag watter dag of maand dit is.

Die regte tyd om die regte keuse te neem is nou, en om nie ‘n keuse te neem (en uit te voer nie) nie, is ook ‘n keuse.

Lees nog rubrieke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.