Ons sien mekaar die eerste keer sedert Desember 2022.

Sy gee my ’n drukkie.

“Baie sterkte met die res van die jaar wat oor is,” sê sy laggend.

Ek skud my kop.

Die eerste twee maande van 2023 is iets van die verlede.

Skole is volstoom aan die gang. Werknemers sien al uit na die volgende verlofdae.

Desember is vir die meeste mense ’n vae herinnering.

Tyd loop afdraande. Veral namate ’n mens ouer word.

Dit voel asof die horlosie se wyser vinniger beweeg as toe jy baie klein was.

Die jaar 2023 is op volspoed. Ons het gewonder hoe ons Januarie gaan deurworstel, en dit is nou agter die blad. Februarie is sopas ook op sy rug.

Nog ’n finansiële jaar is op sy kop.

Baie besighede het op beter syfers ná die grendeltyd gehoop, maar by min besighede het dit wel ’n werklikheid geword.

Baie besighede het toegemaak. Die meeste besighede trek steeds swaar.

Baie besigheidseienaars klou vas aan die hoop dat 2024 ’n beter finansiële jaar sal wees.

Ongeag al die uitdagings spoed die jaar voort. Die son kom op en die son gaan onder.

Vader Tyd laat hom onder geen omstandighede van stryk bring nie.

Ons gaan binnekort terugkyk en besef die jaar is verby sy halfpadmerk.

Uitdagings van vroeër vanjaar gaan weggewerk wees en nuwe uitdagings gaan op ons wag.

Soos my vriendin sê ek ook: Sterkte met die res van die jaar wat oor is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article