Iemand wat oor die algemeen ’n baie positiewe mens is, bel my en vra: “Karin, ek het lanklaas met jou gesels. Hoe gaan dit met jou?”

Die afgelope paar weke se uitdagings flits deur my kop.

“Dit gaan goed met my, dankie,” lieg ek die bekendste leuen van alle leuens.

Dit is my beurt om te vra hoe dit met hom gaan.

“Ek het die afgelope twee dae lewenservaring opgedoen,” sê hy.

Die manier waarop hy dit sê, laat my effens skuldig voel.

Dit klink asof dit moeilik gegaan het, maar hy probeer dit so positief moontlik hanteer.

Tydens die kort geselsie vind ek uit dat hy uitdagende toetse in die hospitaal trotseer het en daarna ’n mediese prosedure moes ondergaan.

“Maar dit gaan eintlik goed met my,” skerts hy.

Ek wonder oor die uitdagings aan my kant.

Is dit al wat besig is om te gebeur – dat ek besig is om lewenservaring op te doen?

Is daar soorte lewenservaring wat ek dalk eerder nie sal wil opdoen nie?

Beslis.

Dalk is daar lewenservaring wat ’n mens opdoen wat vorentoe nuttig te pas gaan kom.

Dalk is daar lewenservaring wat van jou ’n beter mens maak.

Ek is seker daarvan dat daar lewenservarings is wat nie jou pad hoef te kruis nie.

Maar vir die onmiddellike toekoms gaan ek die uitdagings vir eers as lewenservaring beskou.

Dalk voel ek ook meer positief.

You need to be Logged In to leave a comment.