“Hulle dink mense is onnosel,” sê sy en sug.
Dit is vreemd hoe sommige mense die goedheid van ander uitbuit deur blatant vir hulle te lieg.
Mense lieg om verskillende redes.
Mense glo ook leuens om verskillende redes.
Sommige mense vertrou ander totdat hulle verkeerd bewys word.
Totdat daardie dag aanbreek, het sommige mense nie rede om iemand nié te glo nie.
Ander mense glo mense se leuens omdat hulle self nie maklik leuens vertel nie.
Omdat hulle eerlik is, glo hulle ander mense is ook eerlik.
Daar is mense wat leuens glo omdat hulle net nie genoeg aandag daaraan gee nie.
Hulle is baie besig of baie verstrooid.
Hulle kom nie ’n oomblik tot stilstand om tyd en energie te bestee om hierdie liegstories te weeg en te lig te bevind nie.
Sommige mense glo leuens omdat hulle bloot nie die nodige kennis het nie.
Vertel iemand in ’n professionele hoedanigheid vir hulle ’n halwe waarheid of ’n klomp twak, glo hulle dit omdat daar ’n vertrouensverhouding bestaan.
Hulle glo dat dié een met hulle eerlik sal wees.
Mense wat leuens vertel, glo die mensdom is onnosel.
Hulle glo ook dat dit juis die rede is waarom mense hul leuens vir soetkoek opeet.
Wees versigtig met die leuens wat jy so vrylik rondslinger.
Volgens jou is die mensdom onnosel, maar mense is nie so onnosel soos jy dink nie.

