Vir diegene wat ‘n vol werksweek het, is ‘n naweek baie kosbaar. Die idee van ‘n naweek klink idillies.
Twee dae dat jy nie by die werk hoef aan te meld nie. Twee dae waarop jy later kan slaap. Twee dae waarop jy gaan ontspan en asem skep voordat die nuwe week aanbreek. Twee dae dat jy los werkies by die huis kan aanpak, met vriende kan kuier, inkopies kan doen.
Ongelukkig raak iets so eenvoudig soos om ‘n vriendin vir koffie te ontmoet of ‘n kuiergeleentheid saam met vriende te reël soms ingewikkeld. Veral as ‘n mens skoolgaande kinders het. Naweke is stampvol aktiwiteite.
Daar is altyd ‘n lys van goed wat jy oor ‘n naweek moet afhandel, want in die week is daar bloot nie tyd nie.
Twee dae klink na genoeg tyd. Dit is nie altyd nie.
Steek die son op ‘n Maandagoggend sy kop uit, staan die meeste mense moeg op – die naweek was te besig. Alles wat gedoen moes word en gedoen wou word, is nie gedoen nie. Dit word op die eerskomende naweek se lys bygevoeg.
Ons stoei onlangs om ‘n kuiergeleentheid saam met vriende te reël.
Uiteindelik sê ons vriendin: “Wat van ontbyt by ons huis? Ons sien julle Saterdagoggend skuins ná 07:00.”
Dit was inderdaad suksesvol. As jy nie iewers tyd opsy sit nie, gaan jy selde jou vriende sien.
‘n Kuier met vriende in ander dorpe is ‘n groter uitdaging.
Daar word soms maande vooraf op ‘n datum besluit. Die maklikste is om dit aan ‘n verjaardag te koppel.
Teen Desember ontstaan daar baie keer ‘n bottelnek van verskillende soorte afsprake wat deur die jaar aangeskuif is.
Ek wonder of ‘n vierdag-naweek voldoende sou wees om alles gedoen te kry?