’n Tyd terug gesels ons oor vreemde sinne waarmee ons as kinders grootgeword het.
“Trek netjies aan – vir ingeval die kar breek,” het my ma altyd gesê.
Almal wat aan die gesprek deelgeneem het, het saamgestem dat min mense met hierdie sin grootword.
En, o wee, die voertuig het iewers oor die lang afstand gebreek.
Selde naby ’n dorp, en voor die dae van selfone.
Dit het ons langer as gemiddeld geneem om by die see uit te kom.
Aan die een kant omdat ons self langs die pad gestaan het.
Aan die ander kant omdat my pa aan byna elke ander voertuig wat langs die pad gestaan het, hulp verleen het.
As hierdie voertuig-gestanery redelik gereeld voorkom, leer jy as klein meisie twee dinge.
Die eerste ding is dat jy nie eintlik met die probleem kan help nie en dat dit vir die volwassenes beter is as jy onder hul voete uitkom.
Die tweede ding wat jy leer, is dat die herstelproses waarskynlik langer gaan neem as wat verwag word.
Ek het menigmaal deur plase se grensdrade geklim en met die skape gaan gesels, of gaan kyk wat by die windpomp aangaan.
Ek gesels verlede jaar met iemand oor hierdie wedervaringe.
“Weet jy, die kans is goed dat jou pa ons al langs die pad gehelp het,” het hy gesê en geglimlag.
Met watter vreemde sinne het jy grootgeword?

