a man in black suit holding cupcakes
Ter illustrasie. FOTO: RDNE Stock / pexels.com

Van kleins af word my verjaardag, om verskillende redes, ‘n hele paar weke lank gevier. ‘n Hele paar dekades later duur die patroon steeds voort.

Ek aanvaar dit is by baie ander mense ook die geval.

‘n Paar weke voor tot ‘n paar weke ná my verjaardag kry ek boodskappe van gelukwensing.

‘n Goeie vriend het my op ‘n tyd gekontak.

“Ek weet ek bel jou ‘n maand ná jou verjaardag, maar ek wou net seker maak ek is die laaste een wat jou gelukwens.”

Ek het gelag.

“Jy mag erken dat jy van my verjaardag vergeet het, dit gaan nie ons vriendskap beïnvloed nie.”

Al hierdie boodskappe en oproepe is vir my baie spesiaal – al is dit die verkeerde dag of verkeerde maand.

Dit beteken dat daar iewers iemand is wat aan my dink en die moeite doen om ‘n boodskap te stuur.

Mense is besig.

Baie dae gaan verby dat mense nie eens seker is watter dag van die week of maand dit is nie.

Daar is uitdagings. Daar is sperdatums.

Ons brein word deur ‘n magdom inligting oorspoel.

Vir iemand om in hierdie dolle gejaag ‘n oomblik tot stilstand te kom en ‘n verjaardagwens te stuur is kosbaar.

Ek raak dus kinderlik ongelukkig wanneer ek van my kant af die moeite doen om ‘n verjaardagwens te stuur en iemand reageer met: “Dit was gister,” of “Dit is eers môre.”

Maak dit regtig saak?

Ek twyfel of daar mense is wat doelbewus op die verkeerde datum ‘n verjaardagboodskap sal stuur.

Help iemand reg wat jou verjaardagdatum verkeerd het – as jy meen dit is die aangewese ding om te doen.

Maar is dit nie minder doringagtig om net ‘n woord van dankbaarheid op ‘n opreg bedoelde boodskap terug te stuur nie?

  • Lees nog rubrieke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.