silhouette photography of people
Ter illustrasie. Foto: Ricky Esquivel / pexels.com

Dit is altyd lekker om terugvoering op my skryfwerk te kry, hetsy positief of negatief. Dit beteken daar is lesers wat nie net tyd maak om my rubrieke te lees nie, maar ook om daarop te reageer.

Die oorgrote meerderheid van terugvoering oor verlede week se rubriek het aangedui dat lesers met my saamstem: Die Noord-Kaap het vriendelike mense.

Van die vier provinsies waarin ons gewoon het, voel ons as gesin dat die Noord-Kaap beslis die vriendelikste inwoners het.

Dit beteken nie dat ander provinsies nie vriendelike inwoners het nie. Hulle het beslis.

My ondervinding is dat daar by verre meer mense in die Noord-Kaap is wat ‘n oomblik tot stilstand kom en na hull medemens uitreik. Dit is slegs my mening.

Mense mag verskil. Ons moet verskil.

Ek wonder hoe die wêreld daar sou uitsien as ons almal saamgestem het − waaroor sou ons nogal saamstem?

As jy vir tien verskillende persone vra om iets te sê oor die rugbywedstryd wat hulle bygewoon het gaan daar waarskynlik tien verskillende weergawes wees.

Een van die lesers se terugvoering was dat dit nie soseer iets met die provinsie te doen het nie, maar met die individu wat dit so ervaar.

“Jy is iemand wat maklik met mense praat, selfs met vreemdelinge. Mense vind dit maklik om met jou te praat.”

Daar steek beslis waarheid in. Elke individu is uniek en dit maak hul ondervinding ook uniek.

‘n Ander leser se reaksie was oor die feit dat ek ‘n persoon as “ouer” beskryf het. Dit was slegs ‘n waarneming.

Ek het nie bedoel die persoon is bejaard, afgeleef of staan met een voet in die graf nie. ‘n Jonger persoon sou waarskynlik nie dieselfde staaltjies oor sy lewe met my kon deel nie.

Dankie vir al die lesers wat my rubrieke lees en jul terugvoering met my deel. Julle is kosbaar.

Lees nog rubrieke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.