“If you do something good, people ask for proof.” Ek talm ‘n oomblik terwyl ek in stilte hieraan herkou.
Hy trek ‘n asemteug in en sê: “If you do something bad, people believe it − without asking for proof.”
Ongelukkig is dit baie waar.
Doen iemand iets goeds, sal die nadraai daarvan baie vinnig ‘n stille dood sterf. Daar sal feitlik geen tyd bestee word om oor hierdie goeie daad te gesels nie.
Maar wanneer iemand iets slegs of negatiefs doen. Of gedeeltelik doen. O weë. Daar word ure, dae en weke bestee om hieroor te gesels.
Nie net word daaroor gesels nie, maar die storie kry stertjies en binnekort is dit wat gedoen is ondenkbaar. Waarom glo mense so maklik die slegte van mense, maar die goeie is so moeilik om te glo?
Iemand vertel onlangs vir my van ‘n vrou wat baie gewig verloor het. Weinig het haar gekomplimenteer. Dieselfde beginsel geld waarskynlik in hierdie geval.
In wese doen ons almal iewers iets negatiefs. Daar is ongelukkig mense wat opgewonde raak oor ander mense se negatiewe gedrag. Dit laat hulle op ‘n vreemde manier beter oor hulself voel. Hoe slegter die gedrag, hoe beter voel hulle.
Dit is waarskynlik waarom daar met smaak stertjies aangelas word.
Die ander kant is ook waar.
Ons vertel onsself baie maklik dat iets onmoontlik is om reg te kry. Dit is onmoontlik om gewig te verloor of ‘n suksesvolle besigheid te hê. Loop jy iemand raak of kom jy van iemand te hore wat wel hierin geslaag het, word jy verkeerd bewys − en dit sit nie lekker aan jou lyf nie. Dan is dit moeilik om opreg opgewonde te raak.
Doen iemand iets slegs, word dit vir soetkoek opgeëet en soos ‘n veldbrand versprei. Doen iemand iets goeds, vra mense vir bewyse.
- Lees nog rubrieke hier.


