“Dit is net ’n mens se gewete wat jou uit die slaap hou,” het Ouma altyd gesê.
Met verloop van tyd het ek besef dat dit nie heeltemal die waarheid is nie. Verskeie dinge kan ’n mens uit die slaap hou.
Gesondheid is een rede waarom mense nie kan slaap nie. As daar iewers ’n chroniese pyn of ongemak in jou liggaam teenwoordig is, of iets wat nie heeltemal wil saamwerk nie, kan dit tot slapeloosheid lei.
Sommige mense slaap sleg nadat hulle strawwe oefening agter die blad het. Hierdie mense verkies om vroeër in die dag te oefen om die slapeloosheid te probeer bekamp.
Slegte eetgewoontes hou sommige mense uit die slaap. As hulle te veel kaffeïen of suiker ingeneem het, bly Klaas Vakie hulle ontwyk.
Spanning en bekommernis kan Klaas Vakie ook die hasepad laat kies. Mense rol rond omdat hulle bekommerd is oor hul kinders, hul ouers, hul werk of die ekonomie.
Daar is diegene wat so onder werksdruk steier dat hul brein ná ’n dag se werk weier om af te skakel.
’n Skuldige gewete kan jou inderdaad ook uit die slaap hou. Ongelukkig het nie alle mense ’n gewete nie en slaap hulle partykeer rustig voort terwyl hul slagoffers oop-oog na die donker plafon lê en staar.
Mag diegene wat aan slaaploosheid ly, vinnig ’n moontlike oplossing vir hul probleem kry.
Selfs diegene wat weens ’n skuldige gewete wakker lê.