Op ons onlangse reis deur ander dele van die land het ons onsself op gewilde toeristeroetes bevind.
Dit was wonderlik om te sien hoeveel oorsese besoekers ons land verken.
By van die besienswaardighede het werknemers hul bekommernis oor hul werk uitgespreek. Sedert die grendeltyd het twee derdes of driekwart van hul kollegas hul werk verloor.
Hulle is bekommerd dat dinge dalk sal versleg en hulle ook hul werk verloor.
Sommige kollegas het op ander plekke werk gekry, maar die meeste van hulle soek nog. Van hulle hou duim vas dat dinge so sal draai dat hulle weer by dieselfde plekke in diens geneem kan word.
Wissel ’n mens ’n paar woorde met buitelandse besoekers, is dit verblydend om te hoor hoe positief hulle die besoek ervaar. Hulle is opreg verbaas oor hoe ver hul verwagtinge oortref is. Hulle verduidelik opgewonde dat Suid-Afrikaners soveel vriendeliker is as waarop hulle gehoop het.
Dit is nie net groot toergroepe wat ons raakgeloop het nie, maar ook heelwat buitelandse besoekers wat as gesinne, apart van toergroepe, ons land verken het.
Mag die komende seisoen nog meer besoekers ons land binnenooi. Mag die toeristebedryf in ons land nie net herstel word na waar dit ’n paar jaar gelede was nie, maar mag dit ons eie verwagtinge oortref.
Daar is ’n magdom mense wat steeds asem ophou om te hoor of hulle hul werk gaan terugkry.
Mag hierdie mense se wag uiteindelik iets van die verlede wees.

