Wanneer so iets my pad kruis, wonder ek waarom dit moontlik is om mense te manipuleer.
Uit die terugblik lyk dit logies dat iemand van beter moes weet as om vir hierdie twak te val. Dit is ongelukkig nie so eenvoudig nie.
As ek my eie ondervinding moet uitpluis om te sien hoe so iets moontlik is, sou ek sê die manipuleerder lê baie geduld aan die dag. Die oog bly op die prys. Die sogenaamde prys is om iemand só te manipuleer dat hulle geen ander weergawe van gebeure sal glo nie.
Dit begin by krummelgrootte inligting. Mikroskopiese klein stukkies – iets wat skaars met die blote oog gesien of met die blote oor gehoor kan word.
‘n Suggestie. ‘n Sug op die regte tyd. ‘n Traan wat gestort word.
Ek het onlangs iemand leer ken wat haar trane soos ‘n kraan kan oop- en toedraai. As ek nie dadelik aandag gegee het nie, het die trane opgehou. Wonderbaarlik.
Nadat die eerste paar krummels gestrooi is en hulle sien dat dit goedsmoeds opgepik word, word groter brokkies uitgesit. Hier en daar ‘n sin. Iets wat aandui dat hulle baie sleg behandel word. Iets wat aandui dat iemand nie hul werk reg doen nie. Iets wat aandui dat ‘n betrokke persoon nie vertrou kan word nie.
Teen die tyd dat die krummels en brokkies deur die slagoffer verorber is, raak dinge maklik.
‘n Paar weke of maande is nou al verby. Die slagoffer is nog heeltemal onbewus dat niks van hierdie krummels en brokkies die waarheid is nie. Hulle kry die manipuleerder jammer. Hulle ondersteun.
Soms speel die manipuleerder op hierdie manier ‘n paar mense suksesvol teen mekaar af.
Wees bedag. As ons die krummels betyds kan eien, kan ons toekomstige hartseer moontlik vermy.